Ek onthou in my eerste jare by die gemeente: PEN was ’n jaar oud en ek het op ’n dag sommer net deur die strate gestap. Heel per ongeluk het ek afgekom op klein weggesteekte fonteintjie op die Telkom perseel oorkant die Bosmanstraat kerkgebou. Ek het ’n oomblik gestaan en dink: Wat is verkeerd in hierdie prentjie? Skielik het dit tot my deurgedring. Die fontein het geen munte in nie, geen drome wat gedroom is en wense wat gewens word nie. Dit het my so diep ontstel. Ek en die Here het daar en dan ooreengekom dat die kinders van die stad, ’n plek gaan hê waar hulle drome kan droom en wense kan wens en waar dit regtig waar gaan word. Dit was die begin van PEN Tienerbediening se storie.

Ek het die SKJA, ’n stil dood laat sterf en het begin met ’n klein groepie tieners. Saam het ons die fondasies gelê vir die begin van die bediening wat vandag bekend staan as Infusion! Die tieners in die middestad het my alles geleer van menswees en liefhê. Hulle het my gehelp om groot te droom en braaf genoeg te wees om self verantwoordelikheid te aanvaar, om my drome te laat waar word. Hul dapperheid het deur die jare, my inspirasie gebly, om nooit op te gee nie en geen omstandighede as ’n verskoning te gebruik
om nie my beste te doen nie. Elke kind wat in die middestad groot geword het en hul drome laat waar word het, vorm die fondasie van PEN. PEN het natuurlik al ’n in 1992 voet neergesit met ’n kleuterskool en kinderbediening in die middestad.

Vandag 25 jaar later, staan ek aan die stuur van PEN as die Hoof Uitvoerende Beampte en het die voorreg om sam met ’n span van 125 passievolle mense, met die visie om lewens te verander, tasbaar te maak hier in die hartjie van die stad. My rol hier, is een van voorloper, spanmaat, dromer, diennaar en ook ’n aanbidder van God, wat destydse drome in my laat groei het tot wat PEN vandag is. Vandag dien ons nie net mense deur die lewer van noodsaaklike dienste nie, ons rig hulle op om menswaardig en vol potensiaal hulle eie doel te vind en hulle toekoms te ontgin soos God in Jeremia 29:11 belowe. Ons het hierdie maand ons 25ste verjaardag gevier en ons weet dat ons bloot uit genade saam kan bou aan Sy koninkryk hier in die middestad.

Ek wil jou graag uitnooi om sommer hier by PEN te kom kuier, saam te bou, te kom gesels, saam planne te maak, saam te kom lief hê en natuurlik saam te kom droom. Besoek ons webwerf by www.pen.org.za en kom maak ’n draai.

PEN groete!

Dr. Marinda van Niekerk.