November maand by PEN is gewoonlik ’n geskarrel om alles reg te kry vir Seekamp.  Hierdie jaar beoog ons weereens om 110 kinders ’n geleentheid te bied om vry te word van hulle omstandighede vir 10 dae en net ‘kind’ te wees.  Vir sommige van ons kinders, sal dit ’n eerste keer wees, waar hulle hul voete in die seesand kan sit.  Seekamp is nie net ’n vakansie by die see nie, maar dis ’n geleentheid vir meeste van ons kinders wat uit stukkende huise kom, om spreekwoordelike pleisters te plak en “gesond” te word.

Hierdie 10 dae is ’n ontdekkingsreis waar hulle hulself dieper leer ken en ook hulle doel hier op aarde te vind.  Hendrien van Vliet, Bestuurder van die Jeugprogram sê: “Om kinders “heel” te maak is nie so maklik nie, dit vat tyd en geduld en soms baie trane om hulle leefwêrelde te verstaan.  Dan eers kan ons saam werk om hulle toe te rus op ’n emosionele en geestelike vlak om hulle uitdagings te bestuur”.

Seekamp 2017 het egter jou hulp nodig.  Ongelukkig kom ons kinders se “gesond word” teen ’n prys wat rand en sent benodig.  Dit kos ons bykans R1100,00 per kind, ’n skrale bedrag vir die nodige aandag, berading, ondersteuning en vryheid wat PEN elke kind bied.  Ons benodig hulp met lekkergoedpakkies, handdoeke, toiletware en sonbrandmiddels.  Elke donasie wat ons kry, bring ons ’n paar kilometer nader aan die kus en nader aan hulle vryheid.  Jou hart en hande kan ’n kind se lewe verander en ons nooi jou uit om saam met PEN ons kinders “heel te maak” hierdie Desember.  Vir meer inligting en om betrokke te raak by die PEN Seekamp 2017, kontak Janthinus Schrage by thinus@pen.org.za of 0123236688.  Om ’n kind se “heelword” te borg, kan jy ’n donasie maak in die volgende rekening:

Rekening Naam: PEN
Bank: ABSA BANK
Rekening Nommer: 0020 263 385
Tak: 632 005
Verwysing: Seekamp & Voorletters en Van

Jy kan bewys van betaling epos aan info@pen.org.za.